Trails, odds and ends...

About us & Contact information

Upcoming Events

Rust de Winter
Bundu Trail

News Letter

Back to Index

Jamboree 2006

Sponsors & Links

Photo's of recent events

To all frequent visitors, please press "Ctrl" & "Refresh" to view latest updates.

Sanipas Wegbreek
Deon Kok

Groete uit Zambia
Johan Neethling

EGIPTE TOER 
Fransois Rossouw

KALAHARI 2007  
LONGTOM

“THE SHELL ENDURO INTER CO-OP COMPETITION”
Francois Rossouw

BAVIAANSKLOOF
Deon Kok

WEGBREEKNAWEEK GROBLERSDAL / LOSKOPDAM - 6 - 8 Julie 2007 
Deon Kok

SPERGEBIED!
Francois Rossouw

SANIPAS WEGBREEK Junie 2008

Hierdie was weereens 'n onvergeetlike ondervinding!!!!
Na 'n heerlike ontbyt by die Wimpy op Harrysmith, volg ons die roete R712 – R74 Sterkfonteindam Natuurreservaat; Oliviershoekpas; Mount-Aux-Sources, 3280 m bo seespieël, die hoogste berg in RSA; Cathedralpeak 3004 m bo see; volg roete na Zunkels; Loskop; Draycot; Ntabamhlope; White Mountain Resort; verby KwaDlamini; Rockmouth; T-aansluiting – links na Mooirivier; 8 Km draai regs rigting Mt. Lebanon; verby Mt. Lebanon afdraai tot in regs na Lower Loteni; Pad na Rosetta. By The Ugly Duckling winkel was ons verstom deur al die goed wat hulle daar uitstal. Ons gaan tuis by die Himeville Arms Hotel.
Saterdag: Temp. -1°C Terwyl die ryp nog spierwit lę, vertrek ons na Sanipas. Soos my oorlede Ouma altoos gesę het “ As die ryp so dik lę, kan ons seker wees dit gaan 'n lekker dag wees.” Dit was ook nie anders nie want ons was geseën met 'n heerlike, windstil wintersdag. 
Die eerste vyf kilometer van die pad is die afgelope twee jaar reeds onder konstruksie. Teen die tempo waarmee daar egter gewerk word om die beroemde/berugte pad te teer, kan jy seker wees daarvan dat ons na 2010 se skares vertrek het, ons nog steeds die pas in sy bestaande toestand kan geniet. 
Ek lig my hoed op vir die padmakers wat hierdie meesterstuk die lig laat sien het. Al kronkelende langs die rivier, met die Drakensberge wat langs jou uittroon, bewonder ons die pragtige natuurskoon. 
The Sani Pass is regarded by some as one of the most spectacular views in South Africa and is an experience not to be missed. Walls of sandstone, cascading rivers and hair-raising bends are just some of the highlights we experienced as our 4X4 vehicles took us through the Barrier of Spears and into the Kingdom of Lesotho. To be on the edge of the escarpment at an altitude of 3000M, overlooking the hills of Natal, can't be described. Mountaineers spend hours, sometime days, to reach a summit and enjoy the same views that we reached in our 4X4's.
Sani Top Chalets waar ons oornag het, het rondawels met klip mure en grasdakke. As dit nie vir die kaggel en gas verwarmer in ons kamer was nie, het ons seker verkluim. Met 'n stewige wind het die kwik gedaal tot vęr onder vriespunt. Die volgende oggend was al die waterpype, selfs die windskem waterbottels van ons voertuie, gevries.
Sondag: Temp. -14°C. Die pad na Mokhotlong neem ons verby die hoogste piek in Suider Afrika. ThabanaNtlenyana 3484 m bo seespieël. Die vulstasie op Mokhotlong het nie loodvrye brandstof nie en die diesel is uitverkoop. Dus nie eintlik 'n brandstofpunt om op staat te maak nie. 
Vanaf Mapholaneng lę die oorblyfsels van die vorige week se sneeu nog aanmekaar. Gelukkig is die sneeu op die pad weggeskraap. By die ski-oord naby Oxbow is die sneeu nog ± half meter dik. 
Ons kuier vir oulaas lekker by Fouriesburg Country Lodge. 











Groete uit Zambia - Johan Neethling 
Lid no 1288 

Ek sit in my kantoor in Lusaka en blaai deur 'n plaaslike koerant en kom af op 'n advertensie van die laaste rondte van die Toyota Zambia 4x4 uitdaag reeks in Fringilla (sowat 40km uit Lusaka) op 17 en 18 November . Net daar besluit ek dat ek genoeg ontrekkings simptone het van al die 4x4 byeenomste wat ek mis in SA en dat ek moet gaan kyk wat by hierdie “challenge” aangaan. Ek bel 'n vriend en so is ons vroeg oggend op pad Fringilla toe.

Met ons aankom vind ons dat die byeenkoms eers in die middag geskiet en dat daar slegs 11 voertuie ingeskryf het vir die byeenkoms. Die organiseerder sien dat ons daar is met my Hilux en vra of ons nie maar wil inskryf nie. Hy belowe dat die baan nie te rof gaan wees nie en dat die voertuig nie behoort skade optel nie (min weet hy dat die ou Hilux al menigde maandbyeenkomste en al 'n Rust de Winter of twee gedoen het). Dit het nie baie oorreding gekos nie en gou gou is die papierwerk afgehandel, die wiele afgeblaas, nommers opgeplak en staan ons in die ry om deel te neem. 

Dag een het toe drie hindernisse. Ons skop toe af met 'n spoed sessie wat 'n redelike styl hindernis teen 'n klip koppie insluit . Daarna 'n hindernis in die vorm van 'n groot figuur 8 met 'n bonus roete (Wat ek maar besluit het is te styl vir die standaard 2.2 masjien en ook maar goed so want nie een voertuig kon die een baas raak nie) en laaste vir die dag 'n blinddoek hindernis. Die hindernisse was toe nie te rof nie en teen die einde van die eerste dag se verrigtinge staan die ou Hilux eerste op die puntelys.

Dag twee skop toe af met 'n droë rivierloop en daarna weer 'n klip koppie klim. Die laaste hindernis is toe 'n geploegde land waarop die spilpunt die hele aand water gegooi het. Dit is 'n spoed seksie waar daar twee voertuie op 'n slag teen mekaar te staan kom. Hier wys die Hilux toe weer wat in hom steek en moet ons toe in die finale rondte te staan kom teen 'n nuwe Mitsibushi met agresiewe modderbande. Dit was een te veel vir die Hilux en ons eindig toe tweede in die afdeling.

Daarna is ons almal na die prys uitdeling en tot ons verbasing stap ons toe weg met die eerste plek vir die byeenkoms en 'n sesde plek vir die algehele uitdaagreeks.

Dit het die verlange na die byeenkomste in SA so bietjie gestil en die 4x4 koors hoog laat loop so baie dat ek nie kan nie wag vir Februarie maand wanneer die 2008 uitdaagreeks hier weer begin nie. 

Die RSG4X4KLUB het verlede jaar 'n ekspedisie onderneem wat enige 4x4 man se hart laat botter pomp. Ons het so baie gehoor van die Sahara woestyn en toe ons die prente van die Dakar Rally op televisie sien, het dit net ons nuuskierigheid so aangejaag dat daar geen keer meer was nie. Ons moes soontoe !!

Ons het met Emirates oor Dubai gevlieg en eers na 22 uur op Kairo geland. Die reelings was goed en die Egiptiese gids het ons daar ingewag en na ons hotel geneem. Die aand het ons op die Nyl Rivier met een van daardie groot restaurantbote gaan vaar en sommer die aandete saam met 'n konsert en “belly dansers” geniet tot omtrent half twee die volgende oggend. Ons het dadelik agtergekom dat die Egiptenare geen tyd het nie. Die meeste winkels bly deurnag oop en die verkeer ja, die verkeer- daaroor sal ons nog baie te sę hę - het geen einde nie. In die dag is daar 22 miljoen Egiptenare in Kairo en in die nag 18 miljoen. Dis besig sonder einde.

Die volgende oggend is ons vroeg uit die vere en met die toerbus tot by die toer operateur se plek waar ons ons gehuurde 4x4 voertuie gekry het. Hulle was klaar gelaai, maar totaal oorlaai met kos, kampgoed, ons tasse met klere en nog baaaaie goed. Dit was 'n versameling van Land Rovers, en Land Cruisers. Toe ons nie almal inpas nie, het Hisham, die Egiptiese toerbaas, sy Touareg ook ingespan om ons op die vyf dae Sahara ekspedisie te help dra. Om uit Kairo uit te kom, was nag. So 'n verkeer het ek nog nooit gesien nie. Dis drie bane met vyf motors langs mekaar. Geen flikkerligte, stopstrate of robotte nie. Jy toet net en ry !!! Dan sit die stuurwiel nog verkeerde kant ook. Gelukkig was daar 'n span toeriste polisie wat ons die stad uit ge-eskort het. Dit was al later as wat ons sou wou hę, maar die woestyn het voorgelę.

Omdat daar in die eerste deel olie ontgin word, is daar 'n pylreguit teerpad wat ons vierhonderd km. tot by die Baharia Oase geneem het, maar dit was reeds tienuur die aand toe ons daar kom. Dit het baie gekos om vir Hisham te laat verstaan dat ons van Suid-Afrika af kom waar 'n mens in die nag slaap en moreaand vroeër by die kamp wil wees. Wel, ons aandete was eers na twaalf gereed. Tipiese Egiptiese kos waaraan ons mage maar gesukkel het om gewoond te raak.

Die volgende oggend het ons deur die oase getoer en brandstof volgemaak. Teen net meer as 'n Rand per liter was dit 'n plesier, al was dit deel van die toerprys. Nou was dit eers weer teerpad deur die totale plat woestyn. Skielik het daar koppies en rotsformasies begin uitdop uit die verheen sandvlaktes. Tot die teerpad en alle paaie tot 'n einde kom. Ons was by die omdraaipunt van die toeriste toerbusse. Die Kristal berg. Ongelooflik. Die hele kruin van die twintig meter hoë berg is van kristalle. ‘n Groot bekommernis is dat die toergidse jou aanmoedig om 'n stuk kristal as ‘n “souvenir” saam te neem. Wat gaan na 'n paar jaar oor wees want hier draai minstens tien busse per dag.

Ons neuse het egter reg wes in die onbekende kalksteen woestyn ingewys. Dit was net 'n paar km. toe die Swart woestyn met sy kalkkoppies en 'n harde swart tipe ysterklip ons inwag. Daar was geen pad nie en ons moes ons weg tussen die koppies deur baan agter Hisham se twee GPSse aan. Dit het gesukkel met die oorlaaide vreemde 4x4's en ons het Hisham se tande taai gemaak as hy elke keer moes omdraai as een nie die los kalksandkoppie kan oor nie. Ons het tyd gemors en die ysterklippies het die Touareg se band aangeval. Daar was nie meer spaarwiele oor vir hom nie en die stukkendes moes gelap word. Dit was weer 'n laat aand, maar ons het die blaam gevat. Mos gedink ons sou weet hoe om in die woestyn te bestuur na 'n paar trippe deur die Namib in Namibie. Dit was reeds donker toe ons by die oase van Ain Khadra aankom en ons het ons kamp in die sand gemaak. Daar was net 'n paar palmbome en die oase waar die water op die koppie uit die sand geborrel het en voor dit behoorlik kon afkoel net so weer in die sand verdwyn. Gelukkig was daar drie dammetjies. Een vir die kamele om te drink, een vir bad en een vir wasgoed was. Die water was warm en die battery was lekker. Hier het ons op 'n groep toeriste afgekom wat op 'n vyf dae kameeltoer was. Die een Engelsman het in die swembadjie gesit. Hy kon nie uitklim nie, want sy agterstewe was te seer. Dit was dwarsdeur geskuur van die geskommel op die kameel. Dit het seer gelyk ook en daar was vir hom nog drie dae oor. Eina ! 

Nou was ons in die Wit woestyn. Oral was vreemde kalksteen formasies wat tot tien meter bo die spierwit kalkvlaktes uitgetroon het. Die beelde en sprokiesformasies het al hoe meer geraak soos ons dieper in die Wit woestyn ingevaar het. By hierdie tyd het ons al geweet hoe om die vreemde oorlaaide voertuie deur die sandbulte en tussen die formasies deur te ry. Dit het al hoe beter gegaan en Hisham se senuwees het begin bedaar. Tot die noodlot toeslaan. Twee papwiele op die Touareg en albei bande totaal flenters. Maar, 'n boer maak 'n plan. Een van die Egiptenare wat kos maak, vertel dat hy al 'n Discovery se wiel op 'n Touareg gesit het. Gou toets ons dit, maar die remknyper is in die pad. Gelukkig het die een Discovery magnesium wiele met 'n baie wye spoor en hulle pas. Ons gebruik al die spaarwiele om daardie Disco ook op die pad te kry, maar die Touareg wat nou lyk of hy op steroids is, loop dat dit bars. Ons is by hierdie tyd al gewoond aan die Egiptiese kosse en dit begin selfs lekker smaak. Veral soggens maak die kok 'n dun deeg aan wat hy dan in sulke groterige druppels in die warm olie drup. Dit maak dan sulke eenrand groot vetkoekies wat hy in effens verdunde koeksisterstroop doop of in versiersuiker rol. OOO, dis lekkerrr !! Daarmee saam kry ons dun worsies of vleisrolletjies met hulle plat brode en gespeseryde slaaie.

Ons doen net aan by die Oase van El Serw. Dis 'n wonder oase met net vyf palmbome reg op die koppie waar 'n vingerdikte warm water stroompie uit die grond borrel om na die drie dammetjies weer in die sand te verdwyn. Die wonder is egter dat hoe meer beweging daar is, hoe sterker word die stroompie. As daar twee kamele kom, is daar net genoeg water vir hulle, maar as daar sewentig is, is daar genoeg water vir almal. Ons maak die aand kamp in die mooiste canyon van El Khabour tussen massiewe kalksteen berge waardeur ons al die laaste paar ure ry. Nou begin die mooiheid ons oorval. Dis alles so heel anders as wat ons verwag het. Daar val net drie mm. reën per jaar en dus bly die wonderformasie ongeskonde. Dis feetjiegesigte en berge met gate regdeur en paddastoele. Dis wonder-mooi. Ons is nou op pad na die Oase van Farrafra. Dis 'n groot oase met baie fonteine en groot pompe wat dik strome warm water uit die aarde uit pomp. Hier is tot weivelde met beeste. Ons het tot nog toe net kamele gesien. Tot ons verbasing kom ons aan by die pragtige Aqua Sun Hotel daar by die oase . Daardie aand het die ouens en vrouens behoorlik gebad en gebad !! Ons het so uitgesien na 'n lekker koue bier, maar in Egipte is drank teen hulle geloof en net sommige hotelle het 'n dranklissensie. Gelukkig behoort die hotel aan Hisham en kon hy 'n plan maak.

Vroeg die volgende oggend het ons die teerpad gevat vir die 500 km. Kairo toe. Nou was die verkeerryery weer nag. Hulle hoet net en ry en draai. Nee, ons taxis kan vir lesse gaan. Toe ek die Egiptenaar vra hoekom die bakkies nie agterligte het nie en die karre wat wel het, s'n nie werk nie sę hy: It's not so serious as we do not use them so heavily around here !! Voertuie is baie duur in Egipte. Daar is tweehonderd persent invoerbelasting op voertuie met die gevolg dat 'n standard 100 series Land Cruiser in ons geld R1,200 000.00 kos. Die belasting geld ook as jy jou eie voertuig daar inneem. Daarom is huur die enigste uitweg - as jy kans sien vir die bestuur natuurlik.

EGIPTE TOER
Francois Rossouw vertel...

 

 

 

 

 

 

 

Die Kalahari het geroep en ek moes gaan. 

Kraanvoëlkampmanne, Long Tom, Jan Kruger, Johan Tande en Buurman Flip Hattingh, het Woensdag al pad gevat met Jan se nuwe Pajero. So kuier - kuier het ons rustig gery en by die bymekaarkom plek oornag. Dit nou Kameelboom Lodge, gerieflike kamers. Donderdag oggend word ons begroet met 'n stewige ontbyt en met hondmak springbokkies en elande om ons. Aanvanklik was die trip geadverteer as 'n 4x4 roete. Daar slaan toe meer quads op sleepwaens uit as 4x4's. 

In 'n konvooi is ons toe na Springbokpan om te oornag. 'n Spog beesplaas met baie wild. Ons is vriendelik ontvang, lekker kampplek, geen gras met sand, dis mos waarvoor ons gekom het. Ons kuier rustig langs 'n vuurtjie toe 'n Ford Ranger tweewieldryf langs ons vas sit. Johan help wiele afblaas en siedaar. Ons vier is toe skielik te moeg om tente op te slaan en slaap onder die sterre. Vrydagoggend na koffie ry ons toe tot by 'n hoë steil duin waar almal lekker speel terwyl brunch berei word. Ons gaan by Middelputs oor die grens plus - minus 60km noordwes, stop ons. Dis nou tyd om quads af te laai en bande af te blaas. 

Die twee kęrels met die Ranger wil toe met hul quads verder en hulle twyfel of die tweewieldryf dit sal maak. Ek en Johan Tande bied aan om die voertuig deur die 120km sand te vat tot by ons oornag punt. Ons het beurte gemaak en lekker gespeel, nęrens vas gesit nie, ons is mos van Kraanvoëlkamp. Toerleier Des se Hilux se ‘alternator’ pak op. 

Ons slaap in die rooisand, hier en daar 'n boompie. Dis al, vir die volgende twee nagte. Saterdag na ontbyt vat Des die pad na Twee Riviere grenspos om die ‘alternator’ te herstel. Die res van die groep ry rooiduine om, speel lekker en sluit so een uur by Des aan. Die ‘alternator’ se agterste laer het die gees gegee. Geen onderdele is beskikbaar nie - wag vir dit! Hy maak 'n laer of sal ek sę 'n bus van laaghout, olie hom goed, en hy is weer op die pad (dit was gelukkig die agterste laer). Hy voltooi die trip en haal die huis. 

Van Middelputs ry ons teen die Gemsbokpark se heining af plus minus 62km, - draai toe oos en ry plus-minus 10km waar geen pad is nie tot by die kamp. Sondag na ontbyt ry ons weer noordwes plus-minus 50km oor duine, geen pad. Ons het die ko-ordinate en met Jan en Johan se GPS'se haal ons die punt. Met 'n tweespoor sand paadjie ry ons toe tot by Sondag se oornag punt, Berrybush by Tsabong en Maandagoggend vat ons weer die pad na Gauteng. 

Die Landrover wat saam gegaan het, het dit toe nie gemaak nie, sien foto. Die Pajero was ook nie meer so nuut toe ons by die huis kom nie. 

Groete, LongTom.

NS: Baie wyshede het uit die manne se monde gevloei oor hierdie vier dae. Dit is ongelukkig van so 'n aard dat dit nie gepubliseer mag word nie. 

“THE SHELL ENDURO INTER CO-OP COMPETITION”

Daar is 200 landbouko-operasies in Suid-Afrika wat almal verskillende produkte aan die boere voorsien. Die meeste van hierdie ko-operasies verkoop Shell smeermiddels. As 'n blyk van waardering het Shell hulle kliënte wat hulle produkte by hierdie ko-operasies koop, 'n kans gegee om aan 'n bakkie gymkana deel te neem en op die finale 'n kans te staan om as wenner uit te tree en as prys saam met sy vrou as gaste van Ferrari en Shell na Brasilië te gaan om die Brasiliaanse grand Prix by te woon.

Die boere wat dan die produkte gekoop het, het 'n inskrywingsvorm ingestuur met 'n klompie kwalifiserende vrae wat as uitdun gegeld het. Toe is 'n groep semifinaliste gekies uit verskillende streke. Die Noordelike helfte van die streke sou dan by NAMPO tydens die skou daar aan die semi finale gymkana deelneem en die Suidelike streke sou by Melkbos in die Kaap aan die ander semi finaal deelneem. Die twee wenners van die verskillende kompetisies sou dan in 'n finaal na die Melkbos- semi finaal daar deelneem en 'n wenner sou aangekondig word. Ek, Francois Rossouw sou as organiseerder van die kompetisie reeks optree met Peter Claasen aan my sy.

By Nampo het Peter Claasen 'n gymkana baan gebou soos net hy dit kan doen. Toyota het natuurlik die kans raakgesien om die verskillende boere in hulle nuwe 70 series Land Cruiser bakkies te laat ry en al die voertuie vir die kompetisies voorsien. Agt splinternuwe Land Cruiser 70 series bakkies het by Nampo opgedaag en die kompetisie het ten minste twee plekke gehad waar geen bakkie sonder twee ewenaarslotte sou deurkom nie. Baie boere wat bakkies ken, het die hindernisse net so gekyk en dan vir Peter gesę hy is mal. Geen bakkie sal daar kan loop nie. Ons het hulle oortuig om darem te probeer en dan seker gemaak hulle is in die regte rat met al die ewenaars gesluit. Ek wens jy kon die boere se oë sien as daardie Land Cruiser met die grootste gemak teen die erge skuinstes uitkruip en die bestuurder nog kans het om aandag aan die kompetisie te gee ook. Na die tyd was die bakkies 'n groter besprekingspunt as die kompetisie en ek glo daar is baie ''minds'' opgemaak oor watter voertuig hy vir sy plaas gaan koop. Vir vier dae het die deelnemers op 'n gereëlde basis opgedaag om hulle vermoeëns te toets en die gees het hoog geloop as die punte naby mekaar gekom het. Op die einde was dit Francois van Eeden, 'n boer van die Vrede omgewing wat die hoogste punte gekry het en deurgedring het na die finaal.

Toe die Suidelike streek se manne in die Kaap naby Melkbos by die Ou Trekpad 4x4 roete opdaag, het hulle al 'n idee gehad van wat om te verwag. Peter het natuurlik almal geflous deur dieselfde program heel anders aan te bied, maar ook die moeilikheidsgraad 'n bietjie aan te help met baie sand en harde bande. Weer het Toyota splinternuwe Land Cruiser 70 series bakkies gegee en die boere was erg be-indruk. David Wesson van Ceres het hier as wenner uitgetree en toe was dit hy en Francois Van Eeden wat dinge in die finaal moes uitspook. 

Dit was 'n styd. Ons was tevrede dat ons die twee heel bestes gehad het toe hulle in die finaal albei volpunte gekry het in die paalry hindernis, terwyl niemand anders dit kon regkry nie. By die agteruitry met die sleepwa was die punte ook gelyk. By die teikenry was dinge nie so gelyk nie. David het toe met 'n groterige kop voorgeloop. Ongelukkig vir hom land hy toe by die bottelruil hindernis in 'n hoek waar hy heelwat tyd verloor het en sy voorsprong verloor het. Op die ou einde was dit toe Francois van Eeden wat net-net gewen het en nou die kans het om die Grand Prix in Brazilië saam met sy vrou as gaste van Shell en Ferrari te gaan sien.

Baviaanskloof

30 Maart tot 10 April 2007
AFSTAND ± 4000 Km.

Hierdie kan met reg beskou word as een van die hoogtepunte op vanjaar se kalender!!! Ons is Vrydagmiddag weg uit Gauteng en het mekaar in Bloemfontein by die City Lodge ontmoet. Sommer vanaf die intrapslag was dit duidelik dat die mense almal oorgehaal was vir 'n uitdagende ervaring.

Saterdagoggend het ons 'n heerlike ontbyt genuttig by Gariepdam en is daarvandaan verder na Bethulie. Ons het op die langste kombinasie pad/spoorbrug in SA stilgehou en 'n verskeidenheid wild in die rivierbedding gesien. Daarna ry ons via Venterstad; Steynsburg; Hofmeyr; Cradock; Daggaboersnek; Cookhouse; Olifantskop pas; Port Elizabeth tot in Jeffreysbaai. Hier het ons in verskeie vakansiehuise tuisgegaan, maar saans het ons almal saam gekuier en geeet. 

Sondag was 'n rusdag en die meeste van ons het die tyd gebruik om in die winkels (Billabong, Quick Silver, Jeep Shop) rond geloop en strand toe gegaan. 

Maandag 2 April: Ons ontmoet Heston Ferreira, 'n boer van Patensie, wat ons gids vir die volgende 3 dae is. Heston is vir baie jare al lid van die plaaslike 4X4 klub en ywerige challenge deelnemer. Sy kennis van die omgewing is van onskatbare waarde vir enigiemand wat meer as net die Baviaanskloofroete wil gaan ry. Vandag se roete neem ons oor berge en dale, (privaatgrond) met 4x4 roetes in die Tuinskloof. Baie van die plekke waar ons ry is die pad maar nou en die afgronde baie naby. Hier het die passasiers begin praat van die “skerpkant” waar hulle sit. Vra maar vir 'n man wat vir die eerste keer aan die verkeerde kant sit terwyl sy seun ingebreek word. Geluk Gerrit, al het jou Pa erg gestress, het jy jou goed van jou taak gekwyt. Vink (Kiewiet) se hand- en bo-arm spiere het goeie oefening gekry!! Die aand is die hele klomp van ons net na nege bed toe. Op gespeel!!!

Dinsdag 3 April: Vandag is duine ry !!! Dit was vir ons vreemd om te hoor ons gaan duine ry terwyl ons Agbare Minister K.B. van Schalkwyk* 'n verbod daarop geplaas het. Net anderkant Oesterbaai op die plaas van Tjoppie Lindström, is die mooiste bos-roete en duine wat jy aan kan dink. Stel jou voor hindernisse met die name Jakkalsdraai, Verneukbult, Athur se bult, Skelmhoogte en Figure Eight. En dit 4 Km weg van see af. Dit was nogal 'n uitdaging om te sien waartoe die verkillende voertuie in staat is. Na middagete onder 'n bos in die duine, ry ons verder tot by die kamp. Uitgespreide groen grasperke en 'n groot dam wag op ons. Na die hitte tussen die duine, was hierdie net die regte medisyne. Die vrouens wou nie saamspeel nie, maar die mans het die “slip & slide” wat in die dam eindig, baie geniet. Ook die foefie slide tot in die dam was 'n treffer. Peter het natuurlik die verste gery; en toe die verste moes terugswem wal toe !!

Woensdag 4 April. Ons besoek die Kougadam wat in 1970 voltooi is en onder andere water aan die Gamtoosvallei water vir besproeiing lewer. Andrew Murray, die bestuurder van die waterskema, begelei ons op 'n baie interesante toer deur en teen die wal. Die wal is ±100 meter hoog en die water stoot 35 Km op in die klowe. Op sy breedste is die dam maar 300m breed. Hiervandaan neem Heston ons tot bo-op die berge langs die dam. Maklik was die nie. Maar nouja, almal het teen hierdie tyd geweet dat ons nie hier was vir 'n Sondagskool piekniek nie. Klim 900 meter in minder as 5 km op 'n paadjie waar jy nie eers oral uit jou voertuig kan klim nie, dan weet jy !! Dit het ons bykans twee uur geneem op tot bo te kom. Sommiges moes 'n bietjie hulp kry. Dit was alles die moeite werd. Die uitsig oor die dam en die vallei, die berge en klowe rondom ons, was asemrowend. Bo-op die berg moes ons eers die pad soek, wat agt maande gelede laas gebruik was. Die laaste ent af tot terug in die rivier, was 'n riller!! Heston se laaste droë opmerking voor hy gery het, was: “daar is gelukkig 'n rots wat sal keer dat jy nie van die berg afval nie” John se kommentaar toe ons onder kom was: “Ek het nie geweet die Landrover het so baie liggies op die dashboard wat kan flikker nie! Dit was nog 'n onvergeetlike dag. Dankie Heston. Ons sal verseker weer van jou dienste gebruikmaak.

Donderdag 5 April: Ons ry langs die Tsitsikammaberge verby Kareedouw waar ons Wyle John Vorster se graf besoek. Vandaar ry ons na Andrieskraal waar ons regs afdraai om oor die Kougaberge te ry na die Baviaanskloof toe. Die natuurskoon kan net op fotos waardeer word. Die pad gaan oor die een berg, af deur die volgende kloof en rivier, dan weer oor die volgende berg. Die pad kan beskryf word as 'n goeie 4x4 plaaspad. Dit was intressant om die hoogte bo seesplieël dop te hou. Om 1000 meter op en af te gaan oor 'n berg was reel eerder as die uitsondering!! Ons het die tyd-faktor egter heeltemal onderskat. Toe ons uiteindelik terug kom op die Baviaanskloof pas, tussen die SAP en Sandvlakte, was dit al na 15:00. Om die ±200Km te ry het ons 11 uur lank besig gehou. Vanaand is daar nie tyd vir kosmaak nie. Isabel het vir ons plek bespreek by Tappas, 'n vis-kos restaurant op die strand waar jy met jou tone in die sand sit en kuier. Volgende keer vat ons slaapsakke saam en doen hierdie roete in twee dae. 

Vrydag 6 April. Knysna is wel bekend vir sy inheemse woude waar reuse Geelhout, Stinkhout, Swarthout en ander bome groei. Hier waar Fiela se Kinders spore getrap het en waar die Grootvoete hulle tuiste vind, word 'n mens stil as jy die wonders van die Skepping aanskou. Die reuse bome, kabbelende riviere, fynbos en heide lyk soos 'n sprokies węreld. Mike & Maynie Turnbull verwelkom ons by die MOTHER HOLLAY'S TEA GARDEN waar ons op die heerlikste skons en tee getrakteer word. Ons besoek ook die Bendigo Gold Mine waar in die jare 1884 tot 1890 gedelf was. Daar is nog van die masjiene te sien wat destyds gebruik is. Hier was eens 'n hele dorpie met 'n hotel, winkels ens. waarvan daar net die straatname en fondasies oorgebly het. Op pad terug maak ons 'n draai by die Tsi-Tsi-kamma natuurreservaat en Stormsriviermond. Die mense wat daar verbyry sonder om in te gaan, weet nie wat hulle mis nie. Omdat die rotse so steil in die water afgaan, is die gesig van die branders wat breek uniek. Een van die rotse (genoem KANON-KLIP) waar die golwe breek en die water meters ver in die lug opskiet, is 'n bekende gesig op poskaarte wat oral te koop is. Ongelukkig(of gelukkig) moes John se Land Rover se suspensie juis vandag onklaar raak. Ongelukkig, want niemand sien 'n ander ou met sy voertuig sukkel nie, maar gelukkig dat dit nie gister bo-op die berge in die Baviaanskloof gebeur het nie. 

Hy vertel in sy eie woorde: 
En toe die verhaal van die “ hanggat “ Landrover . 
Op pad Knysna toe, op Goeie Vrydag besluit John en Lily Meiring se Disco dat hy is nou moeg geploeg, drie dae oor en oor die Baviaansberge en die “air suspension“ wil toe nie meer lug pomp nie en gaan lę toe op sy rubber stoppers. Hier gekyk en daar gevat, fuses ge check en relais geruil maar nee. Moes toe maar omdraai en stadig stamp-stamp terug Jeffreys toe maar oppad bel ek Landrover Assist. Gou is alles gereel en die mechanic en stoorman wag vir my in die Baai(P.E.) en dit op n' vakansie dag. Half uur later met n' nuwe “ height adjuster switch “ en daar gat ons weer.
Groot waardering aan Landrover Assist en Mornč Wolfhart en Brian van Rooyen van Landrover PE. Sulke diens word moeilik geklop. 

Saterdag 7 April was 'n wel verdiende rusdag. Almal maar vir oulaas 'n draai in die winkels en kry 'n bottel seewater vir Lettie, of wie, by die huis. Die aand se kos by die Viswijf seekos restaurant en die kuier was alles die moeite werd.

Sondag oggend net na agtuur vertrek ons via Uitenhage en Jansenville na Graaff Reinett. Hierdie “Juweel van die Klein Karoo” is die breinkind van wyle Dr. Anton Rupert, stigter van die Rembrandt Tabak Ko-operasie. Hy het letterlik miljoene rande gegee vir die restourasie van sowat sestig huise, 'n museum en die Drosdy. Die statige sandsteen gebou van die N.G. Kerk, is die fokuspunt in die eeue oue dorp. Dis hier waar Piet Retief en die boere hulle waens gepak het en die GROOT TREK in 1838 begin het. Die uitsig vanaf die berg oor die Vallei van Verlatenheid en die dorp laat 'n mens dink dat jy in 'n vliegtuig is. Ons nuttig ontbyt hier bo voordat ons verder ry. Middelburg, Kaap, hou ons stil by die honderde draad en blik windpompies wat lans die pad uitgestal word. Daar waai 'n redelike windjie en ons kan mooi sien watter een om te kies. Charles en Meisie se tuin sal nooit weer dieselfde wees nie. Ons kuier op die skaap plaas Kelelfontein in die Colesberg distrik by Nicolaas en Mercia Vorster. Die groot stoep was net die regte plek vir nabetragting en almal was baie vrolik teen die tyd toe ons nader geroep was vir aandete. Ons is getrakteer op regte Boere kos en poeding, net soos wat jy dit op die plaas sou verwag het. 

‘n Wegbreek soos hierdie is oor en oor die moeite werd. 

  
  
  
  

PETER GAAN KYK HOE LYK DIT DEUR DIE HART VAN DIE NAMIB

Peter Claasen het 'n kans gekry om saam met die RSG4X4KLUB van Luderitz tot Walvisbaai regdeur die hart van die Namib Woestyn te ry.
Dag een.
Die eerste aand het die groepie van 34 mense met hulle sestien voertuie by Luderitz se Yacht Club bymekaar gekom vir aandete en om mekaar te leer ken. Die volgende ses dae sou hulle mekaar se vriendskappe nodig hę want die seshonderd kilometer wat voorgelę het, was nie kinderspeletjies nie. In teendeel, dit sou die langste stuk sandduine in Suidelike Afrika wees wat ooit deur 'n groep voertuie deurkruis was. Daardie aand het ons in die Obelix gastehuis in Luderitz geslaap, maar die senuwees het die manne gepla. Sou die voertuie hou en sou die brandstof genoeg wees.
Dag twee.
Dis nou !! Na Francois Rossouw seker gemaak het almal het wat nodig is en die tweerigting radios is uitgedeel, vertrek ons eers 35km met die teerpad tot by die Koichab pad. Die pad gaan tot op die vlakte waar Luderitz se water uit die sand uit gepomp word. Dit staan bekend as die Koichab pan. Na nog 20km draai ons die woestyn in en almal laat die banddruk sak tot 0,8 bar. Saam met die groep van 12 voertyuie is Francois Rossouw, die organiseerder van die toer wat met die Nissan 3.0 diesel Patrol ry, en Wittes van Coastways Tours. Hy is die gids wat die Namib ken en weet hoe om 'n stukkende 4x4 aan die loop te hou. Hy ry met 'n Land Cruiser 4,5 petrol bakkie met al die herwinnings toerusting en toilet en stort op. Dan is dit Heiner, die kok ook met 'n Land Cruiser petrol bakkie met al die kos en kookgereedskap en tafels en skadunette. Die res van die groep is die gaste wat elk R6500.00 betaal het om die Namib te kom mak maak ??? Die eerste 70km is pragtige węreld met verskillende kleure sand en bergtoppe in die verte. Die weer is effend betrokke wat keer dat die son ons van bo af korter brand. Sommer al by die eerste ligte duintjies verkyk die manne hulle aan die Gemsbokke wat gemaklik deur die sand draf en raak in die los sand gestrand. Maar dis nog skuins en met 'n tweede of derde probeerslag is hulle deur. Ons stop vir middagete en Heiner se tafel verbaas almal. As dit die voorland is van die etery, gaan ons almal oorgewig wees as ons hier uitkom, wat in der waarheid so was !! Die aand kamp ons naby 'n oopgewaaide granietkoppie om te skuil vir die Suidweste windjie wat so 'n koeltetjie oor die sand gerbing het. Daar is baie voëls wat ons verbaas, maar toe Wittes die volgende dag vertel van 'n fontein wat daar ęrens in die omgewing is, verklaar dit alles.
Dag drie.
Nou begin die sand losser raak en die duine begin ons vermoë toets. Die manne sit vas en probeer weer. Dan word die bande nog effens sagter gemaak, maar Heiner moet vir die minder ervare manne ompad maak. Anderkant kom ons op 'n pannetjie waar daar 'n ou stomneus Fordlorrie staan. Haar naam was Suzy en sy was deur Moshe Kahn gebruik toe hy in die woestyn prospekteer het vir diamante. Suzy was die lorrie wat die voorrade en veral die drank aangery het. Hy het nog sy Dakota tyres op wat al was waarmee hy deur die sand kon kom. Hy staan al van 1952 af hier in die woestyn, maar die gebrek aan vog het gesorg dat hy nog in 'n baie goeie toestand is. “n Paar duine verder kry ons 'n Caterpillar D7 wat ook al sestig jaar lank hier staan, nog kompleet met sy twee sleepwaens aan. Hy het blykbaar 'n silinderkop geblaas. Iemand het dit afgehaal, maar nooit weer terug gekom om die joppie klaar te maak nie. Ook hierdie buldoser is nog baie goed bewaar. Nou pak ons die duine wat effens platter is en ry met 'n swaaiende roete tot so 3km van die see af waar die klimme skerp raak en die sand los. Die enjins brul teen die steiltes uit wat hier in die omgewing van 38 grade helling het, maar nie oral so skerp onder is nie. Dan kan jy 'n bietjie kole gooi, maar bo is die randjie smal en moet jy gou draai om nie in die volgende gat te val nie. Nes jy verlig is dat jy bo is, is die volgende diepte daar en anderkant nog 'n 20 meter oppie en nog een en nog een tot die blou see van Sylvia Hills voor ons lę en middagete op die tafel is. Duisende robbe veroorsaak dat die lug maar skerp ruik, maar ons verkyk ons aan die oorblysels van die vroeëre strandlopers wat hier gebly het. Teen die see is 'n varswaterfontein wat op die strand uitloop. Ons trotseer 'n hele paar geweldige hoë duine en Wittes moet kort- kort wag dat ons eers almal bykom. Heiner moet elke slag ompad maak vir die karre wat net nie kan oorkom nie en sodoende het ons onsself in twee groepe verdeel. Die wat kan en die wat sukkel. Agter die duin kom ons weer bymekaar, maar dit gee die verskillende behoeftes bevrediging. Almal kan nie soos Pikkie Labuschagne van Wolmaransstad en sy pelle ry nie. En ‘after all’, het party gekom om die węreld te ervaar al kan hulle voertuie nie so erg klim nie. Daardie aand sal ek nooit vergeet nie. Ons slaan ons tente op die strand op en daar is nie 'n teken wan wind nie. In teendeel, die wind het vir die res van die week nooit weer gewaai nie. Die seelug maak die woestyn koud en ons moet warm aantrek. Selfs bedags is dit lekker en glad nie baie warm nie. Heiner se kos is uitstekend en ons kan nie glo dat hy onder sulke omstandighede sulke lekker kos kan voorberei nie. Ons eet soos konings.
Dag vier.
Ons trotseer weer 'n klomp erge duine, maar die verdeling maak die sukkel minder. As 'n ou weer die braafheid voel opstoot, val hy dood eenvoudig in die moeilike groep in en as een van hulle sy koppelaar begin ruik, val hy in die ander groep in tot hy beter voel. Daar is egter 'n paar plekke wat almal net eenvoudig moet oor en dis hier waar Johnny Sloan se diesel Land Cruiser bakkie baie genade nodig het om bo te kom. Later die middag kom ons op die strand uit en almal geniet dit om langs die see te ry. Ons tel 'n klomp uie op wat skynbaar van 'n skip afgespoel het, maar toe dit kilometers ver lę, het ons al genoeg. Ons maak kamp op die strand en geniet 'n koue biertjie terwyl ons diep oor die see uitkyk. 
Dag vyf.
Ons draai tussen die bosse in wat hier in die kusbelt groei en verneem van Wittes dat die Sossusvlei onderdeur die sand loop en hier by die see kom. Daarom kry ons hier varserige water en die diere drink ook hier. Hier is ook heelwat Gemsbokke. By Fishersbrun was die pompstasie waarvandaan hulle in die 1909 tot 1923 water gepomp het in die woestyn in vir die diamantdelwers. Ons maak ons waswaterkanne hier vol . Hier is ook ou geboutjies wat deur die Oranjemundse visvangklub onderhou word. Hulle kom vang hier vis vir navorsing. Hulle het al oor die 70,000 visse gevang en gemerk. Net so 5km suid het ons tussen die duine 'n paar mensgeraamtes gekry lę wat elkeen sy eie storie sou kon vertel. Maar dit sou beslis een van swaarkry en baie drama wees. Ons ry strandlangs tot by Moeb baai wat as hawe gebruik was in die myntyd. Oral op pad soontoe lę hope walvisbene vir kilometers aanmekaar. Walvisse was hier gejag en dan bewerk en die olie uitgebraai op die fabriekskip wat gewoonlik agter 'n klein eilandjie so 10km die see in lę, geskuil teen die rowwe see. Hier is nog tekens van bedrywighede met twee ou ‘long boats’ wat nog redelik aanmekaar is. Daarmee het hulle die voorrade van die skepe af deur die branders land toe geroei. Hier draai ons binneland toe en pomp ons bande harder, omdat ons nou 'n klipperige vaal deel van die woestyn ingaan na die drie duitse myndorpies, wat baie vinnig besig is om deur die weer en winde van die woestyn opgeëet te word. Hulle is Grillenberg, Charlottenvelder en Holsazia. Baie leë bottles vertel ons dat die harde woestyn son en eensaamheid hulle tot die enigste lafenis gedryf het. Hier is niks en dis baie ver van enigiets af. Die aand maak ons kamp by die Flintstones. Dis enorme granietrotse met 'n wonderlike uitsig oor die niks.
Dag ses.
Ons volg Wittes deur die swaaiende roete deur die duine met hier en daar skerp ‘slipfaces’ vanaf 38 grade en baie ouens word teen die opdraende gevang deur die los sand. Dis dan sommer ook hier waar ons 'n ‘challenge’ hou en kyk wie kan op 'n nuwe spoor teen die duin opkom. Die sleeptou werk oortyd, maar ons is spoedig weer op pad na die wrak van die Eduard T Bolen. Dis 'n skip van oor die honderd meter wat in 1909 hier gestrand het. Die see spoel egter so baie sand hier uit dat die kuslyn al hoe verder opbou . Die gevolg is dat die skip al omtrent 'n kilometer van die see af hoog en droog in die woestyn lę. Jy kan nie eens meer die see sien as jy by die skip staan nie. Die blikwurms is ook baie vinnig besig om die skip op te eet. Die kaptein van die Eduard T Bolen was Kaptein Parrow. Omdat dit nie die eerste skip was wat hy laat strand het nie, het die redery hom na die ongeluk weggejaag. Hy is toe Kaap toe waar hy 'n hoenderplaas gehad het en in die politiek betrokke geraak het. Die voorstad Parrow in die Kaap is na hom vernoem.Ons slaap reg op die rand van Sandvishawe met 'n pragtige sonondergang. Dis nie ver van die ou vleisfabriek waar hulle beeste vir die skepe geslag het nie.
Dag sewe.
Ons ry deur massiewe duine deur die Land Rover begraafplaas en gaan teen ‘slipfaces’ van tot tagtig meter af. As jy nie daar was nie, sal jy nooit verstaan nie. Dan, skielik is ons op die strand en ry ons die laaste 40km tot by Paaltjies, waar ons bande pomp. Dan verby die soutmyne waarvandaan ons die soutpad vat terug Walvisbaai toe. Ons eet 'n laaste ete saam by Castle Park, maar die mense wil nie uiteen gaan nie. Ons besluit om almal die aand by die Lighthouse Restaurant in Swakopmund te gaan eet voordat elkeen sy pad terugvat huis toe.
Artikel geskryf deur Francois Rossouw.


kampeer tussen sand en water,
wind en weer, 4x4 styl!

moet nie jou 4x4 te lank buite los nie...

en as die gety jou vang beter jou 
tydsberekening reg wees...

‘n natuurskoon wat 
werklik jou asem wegslaan


Dit is hoe jy ‘n gehuurde HILUX ry... 

Die totale afstand van Alberton deur Botswana en terug tot in Johannesburg was 4100km. 
Spaar solank vir Februarie 2008, ons gaan weer so maak!    Peter Claasen

home   about us   image gallery   jamboree 2007   trails   news letter   rust de winter   sponsors & links   upcoming events

web page by: ezdezign@iafrica.com