
Was bykans twee maande uit sirkulasie en tussenin vir sowat 25 dae Donker Afrika in. Wat 'n belewenis, maar dis goed om terug te wees. Sal probeer om u nie te verveel met dag een het ons 03h30 opgestaan met koffie en beskuit en dag twee 04h00 met roereiers nie. Afstande in Afrika is relatief en 100km kan 'n dag se ry wees. Daar is eelte op my boude en 6800km van Pretoria en terug is nie elke dag se pêl nie. Partykeer daagliks, soms elke tweede en soms elke derde dag kampmaak sonder water of geriewe met vyfster kos vir veertig man is ook nie grappe nie en ek is dankbaar vir 'n man soos Frank Carlile wat dit doen vir 'n lewe. Kry vir hom. 'n Groot voorreg was dat almal wat hierdie ekspedisie meegemaak het, ouens was wat reeds hul merk in die lewe gemaak het. Manne van Faam en as ek my tent oopgooi is daar ses wat kom help opslaan.
Maar die hoekoms, waaroms en meriete.
Die Toyota Conservation Outreach-projek staan op 'n paar bene en die projek word aangevoer deur een van my groot pêlle, 'n kêrel met die naam van Gerhard Groenewald van Klipbokkop-faam. Gerhard is 'n gemaakte man in sy eie reg en het eintlik nie nodig om hierdie dinge te doen nie. Dit kos hom ook geld om betrokke te wees, want u weet mos teen die tyd; Toyota en sy pond vleis.
Die konsep het begin omdat die Wildlife Kollege in Stellenbosch vir Gerhard genader het om deel te vorm van die uitgediende Eko-Uitdaagreeks en dat van hulle bestuurlede die ekspedisie mag vergesel om van die veldwagters in Afrika wat op Stellenbosch opleiding ontvang het, te besoek en om te sien hoe hulle ander Afrika-parke bestuur. Die projek sou ook deel vorm van die sogenaamde Vredesparkstigting deur onder andere Johan Rupert en Nelson Mandela so paar jaar gelede. Die stories het draaie geloop en die Assosiasie vir veldwagters in Afrika het hiervan gehoor en hulle wou ook op hierdie wa spring om hulle beuel te blaas en nuwe ook lede te werf. Lang stories agter die konsep, maar bewaring en regeringkonsepte rym nie altyd nie en sodat bewaringbewustes met 'n groter stem almal kan saampraat, en nie elke park op sy eie baklei vir die regte dinge nie. Uiteindelik het 'n groep wetenskaplikes wat 'n loodsprojek in Afrika wil begin om die uitwerking van koolstofbesoedeling op aardverwarming te bepaal, hiervan te hore gekom en hulle wou ook met geweld saamkom.
Oor al die dinge het die man met min langbroeke 'n brief van goudguns getjap, al was dit met die hulp van sy regterhand, ene professor Van Riet wat RSA verteenwoordig op internasionale bewaringsaangeleenthede, want die professor en Sandra Prinsloo wou ook 'n deel van die ekspedisie saamkom om te sien dat ons nie cakanja nie. Maar hulle het sommer ingevlieg. Man met min tyd.
Niks sonder die nodige lawaai nie en ons het RSG gevra of hulle so dan en wan van ons goeie werke sal vertel, toe sê Kobus Bester hy het 'n beter idée. As ons hom nou miskien 'n bakkie kan leen en van sy petroltjies petaal dat dit nie so las is vir hom alleen nie, pak hy maklik 'n paar goedjies in en vat vir Foeta Krige saam, dan saai hulle sommer lewendig in Afrika uit, waar ons ookal mag wees. En sommer die jare wat kom. Na lang onder-handelings het 50/50 ook besluit die program het meriete, maar dis nie maklik om by die ouens verby te kom nie. Daar is min minderwaardigheidskomplekse tussen hulle.
Wilna was saam met 'n slap verskoning om 'in die kombuis te help' en die enigste hanger-on tussen die lot was eintlik myself, maar omdat ek al ou was wat die maatskappy wat petaal verteenwoordig, het niemand my veel gesteur nie en daarom ook dat hulle my tent opgeslaan het. Ek het aanvanklik gedink om hulle reg te help toe dog ek bedêm met die onrein gedagte, goed werk mos soos dit is en dis baie beter dat ons dinge net so los.
Dit so bietjie van die agtergrond, maar Afrika is Afrika en of al die mooi gedagtes gaan vrugte lewer is te besien. My persoonlike gevoel is dat as Afrika dieselfde energie bestee aan landbou as aan interne politiek en oorlog, is Afrika in 'n posisie om voedsel te verskaf aan die wêreld, want die plek is ongelooflik vrugbaar in areas, maar ongelooflik on-genaakbaar in ander dele. Dit was middel-winter, met temperature van 42º en meer. Die tsetse-vliëe vlieg langs die bakkie om in te kom om jou te kom byt, muskiete is van groot formaat en die muggies in die hetige hitte maak 'n ou gedaan. Die vliëe word ook redelik groot en hulle is baie en voel taaierig as hulle op jou sit. En die son. Die son, die stof en die slaggate, 'n ou wil later nie meer nie. En die hele Afrika sit op hulle jekke, dag in en dag uit en wag vir waar gaan hulle hulp vandaan kom.
Met al ons goeie bedoelinge het ons beskonke gashere ons 'n harde tyd gegee by sommige grensposte en by padblokkades het hulle oral fout gevind met ons nuwe voertuie, terwyl wrakke wat jy nie weet hoe hulle nie uitmekaarval nie, vriendelik deurgewuif word. By een blokade wou amptenare geld hê voor ons mog ry. Toe het ons maar afgetrek vir twee ure, kos gemaak en klippe geskop voor hulle gesê het dis maar ok. Hierdie Afrika-hierargie het so hoe dunk van hul eie belangrikheid, hulle sal die Koningin van Skeba in haar glorieë stuur as sy daar aankom, so ek weet nie wat gaan gebeur as 'n ou alleen wil probeer nie. Jy moet maar baie los geldjies saamdra vir al die onverwagte boetes.
Oral waar ons was is te veel om hier oor te praat, maar selfs met ons vreeslose leiers is ons nie deur Zimbabwe nie en het ons al om Zimbabwe gery tot bo in Mosambiek en terug deur Zambia en Botswana. Vanaf Mopanikamp in Kruger Park deur Pafuri na Gonarezhou / Gorongoza / Suid Luangwa / Laer Zambezi / Mana Poele en Chobe, toe raak ons tyd en geld op en klou die stof al 'n halfduim diep op alles. Die Zambezi en Chobe-riviere is pragtig. Een is 1½km wyd waar ons deur is, maar was natuurlik nie in vloed nie. Ons moes eenkeer gaste en media-verteenwoordigers optel en aflaai in Lusaka, sowat 150km weg vanwaar ons vir drie dae gekamp het in Suid-Luangwa. Hulle moes 12h00 by die lughawe wees en ek dog Gerhard is mal toe hy ons 06h00 laat ry. Boeties! Ons maak die vliegtuig met drie minute!
Meeste van die parke het ons ook naby hulle personeelkamp laat bly en was ons aangewese op hulle eie geriewe. Mama Mia! Kan nie dit oorvertel nie en 'n ou loop deur halfduim piepies om te gaan stort en jy hoop maar vir water. By Livingstone sou ons ook drie dae oorstaan en dit in bloedige son, en daar het ek vir Gerhard gesê Boetie ons kry nou 'n ander kampplek of ek draai terug Pretoria toe soos in nou dadelik. Die Victoria-valle en omliggende parke is nou so oorgekommersialiseer, dis die swakste van alles wat ons gesien het en Chobe is nie ver agter nie. Veral by die Vic-valle kan jy nie sien wat jy eet nie, so raas vliegtuie, helikopters en mikro-vliegtuie van 06h00 tot 19h00, dag in dag uit. Chobe het natuurlik 40 000 olifante, en dis bietjies te veel. Nes die seker amper 20 000 vir die Kruger wildtuin. Beide hierdie parke sal 500 jaar neem om te herstel as jy alle olifante dadelik verwyder, maar dis my persoonlike opinie en miskien is dit verkeerd.
In Afrika is die wildparke sonder heinings en daar is eintlik baie wild. Die kerngedeelte van meeste parke is onbewoon en argumentsonthalwe 10 000km2, met 'n bewoonde buffergedeelte van 15 000km2 wat in 6 of 8 gebiede verdeel is en bewoon word. Dis ook hier waar jagkonsessies uitgereik word, en die helfte van die inkomste gaan na die park en die ander helfte na word verdeel tussen die gebiede. Hieruit kry elke gebied dus sowat 6% van die totale inkomste waarvan die helfte daarvan gaan na die hoofman of chief, om sy goedguns te behou en te sien dat daar nie gejag word in sy gebied nie. Van wat oorbly gaan 45% na die area se eie wildbewaarders en 55% na die inwonende huishoudings en so kry elke huishouding dan seker so R100 elke ses maande. Happy days.
Dis in 'n neutedop, maar op 'n manier werk dit.
Zambia is egter 'n hartseersaak. Daar is onenigheid tussen die president en 'n koning in die westelike gebied van Zambia en die regering spandeer geen geld in die area nie. Die koning loop hand-op-die-blaas met die Chinese regering en die Chinese stuur bandiete wat op parool is, na Zambia om prospekteerwerk te doen en bome af te kap. Trokke en trokke 1 meter boomstompe word met groot vragmotors vervoer na hawens en al u wat hierdie mooi handgemaakte beelde koop kan ek u vertel al wat dit kort is 'n 'made in China' plakker. Baie vermorsing vind plaas, want hulle gebruik net die stam en die res van die kosbare boom van seker 1500 jaar word verbrand vir houtskool en die koning het darem 'n broodgeldjie. Die bandiete word nie betaal nie en kry aan die einde van hulle termyn al hulle geld en 'n vliegkaartjie om die res van sy tyd in 'n gevangenis te loop spandeer in China. Nou hoeveel van hulle het u gereken gaan terug?? Dis die skuim van China en hulle verdwyn in die groter stede van Afrika. Prospekteerwerk in die wildparke word gedoen met swaar grondverskuiwingtoerusting en paaie eenvoudig met kruiptrekkers oopgestoot soos en waar hulle wil.
Met al die landboueise teen o.a. die Kruger Wildtuin moet ons Owerstes ook oorweeg om die wildtuin se drade en grense te verwyder en ons vra net mooi dat die plaaslike bevolking nie die wild in strikke te vang of dood te maak nie.
Dalk werk dit.
Groetnis.
Ons het groot gelag vir die man van ek dink Leisure Wheels. Hy het een aand gaan 'n veltie vang in Gorongoza en kom daar 'n toerisvoertuig op 'n nagrit verby en hulle swaai koplampe oraloor. So 20 meter agter die man spring twee luiperds met 'n gejuig terug die bosse in toe moes jy sien hoe hol 'n ou sonder broek vir die kamp! Ek glo nie eers hy het sy jek afgevee voor hy begin voete klap het nie, maar dit was pragtig.



... Willie ...